Die Voorblad

A+ A A-

VF Plus het lank reeds gewaarsku oor Lesufi se politieke aspirasies

Die VF Plus het lank reeds gewaarsku oor Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, se aspirasies om hoër op in die politieke strukture van die ANC op te eindig en om selfs eendag ‘n kabinetsminister te word, deurdat hy die afgelope vier jaar gereeld Afrikaanse skole in Gauteng geteiken het deur hul te beskuldig van rassisme. Hy het ook gereeld by skole se beheerliggaambesluite ingemeng.

 

 

Die jongste voorval is nog vars in die geheue van die Gautengse publiek waar geweld by die Hoërskool Overvaal in Sedibeng uitgebreek het nadat Lesufi bloedneus in die hooggeregshof gekry het toe hy die skool wou dwing om te verengels deur Engelse leerders in te neem.

 

Lesufi het die afgelope vier jaar nie minder nie as sestig Afrikaanse skole in die provinsie geteiken deur hulle te probeer dwing om na dubbelmedium-taalgebruik oor te skakel. Dit was so erg dat die VF Plus die Gautengse premier, mnr. David Makhura, vroeër vanjaar versoek het om Lesufi as LUR af te dank.

 

De VF Plus het ook ‘n klag by die polisie hieroor ingedien en is tans besig is om Lesufi aan te kla vir die verbreking van Artikel 29 van die Grondwet wat oor onderwys handel.

 

Lesufi se politieke aspirasies was lank reeds op die tafel en die afgelope naweek se leierskapverkiesing van die ANC in Gauteng het dit nou bewys. Lesufi is die afgelope naweek in Pretoria verkies tot die ANC in Gauteng se nuwe adjunkvoorsitter.

 

Die VF Plus glo dat Lesufi nie verkies sou word indien hy nie openlik ‘n veldtog teen Afrikaanse skole gevoer het nie. Die VF Plus was dus die afgelope vier jaar reg dat Lesufi Afrikaanse skole geteiken het net om sy eie beeld in die media te bevorder en om tot ‘n hoër amp binne die ANC verkies te kon word.

 

Lesufi het reeds vroeër die maand in die media aangekondig dat die ANC ‘n werksverhouding met die jongste politieke bewegings moet aanknoop wat insluit die EFF en Black First Land First. Hy het gesê dat werksverhoudinge tussen die ANC en sosialistiese politieke partye onvermydelik sou wees.

 

Lesufi het ook sy merk probeer maak met die proses van onteiening sonder vergoeding wat nou aan die gang is deur te sê dat hy rassisme met ‘n passie haat. Sy optrede teen Afrikaanse skole bewys egter die teendeel.

 

Die VF Plus is van mening dat Lesufi ‘n gevaar inhou vir die moedertaalonderrig van alle taalgroepe en dat hy sy nuwe amp gaan misbruik om skole op ʼn groter skaal skole te teiken en by hul werksaamhede in te meng. Die VF Plus het lank reeds gewaarsku dat Lesufi die politieke agenda van die EFF in die Gautengse wetgewer dryf en sy uitsprake die afgelope ruk het hierdie waarskuwing bevestig.

 

Solank as wat Lesufi vir die oorblywende tien maande as LUR van onderwys in Gauteng gaan aanbly, sien die VF Plus ‘n swaar tyd wat voorlê en sal daar daadwerklik teen hom opgetree moet word indien nodig.

 

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.