Die Voorblad

A+ A A-

President speel met woorde oor wit boere wat in Suid-Afrika vermoor word

President Cyril Ramaphosa het met woorde gespeel in ʼn uiters onbevredigende poging om te verduidelik waarom hy in antwoord op ʼn twiet van die Amerikaanse president, Donald Trump, gesê het wit boere word nie in Suid-Afrika vermoor nie.

 

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het vandag in vraetyd in die parlement aan pres. Ramaphosa gevra om te erken dat wit boere wel vermoor word. Die vraag lui: 

 

“Ongeag hoe u (president Ramaphosa) gereageer het op die twiet van president Trump, is die werklikheid dat wit boere in Suid-Afrika wel wreedaardig vermoor word. Dit is onwaar om te sê wit boere word nie vermoor nie.

 

“Is die president bereid om die families en geliefdes van die wit boere wat in Suid-Afrika vermoor is vandag om verskoning te vra omdat hy die moorde ontken het en om sodoende erkenning te gee aan die mense se leed?

 

“Die president het self in sy antwoord op pres. Trump se twiet na wit boere verwys en hy het hulle daarom die onderwerp van hierdie vraag gemaak”.

 

Pres. Ramaphosa het geantwoord deur onder meer te sê “baie mense het nie mooi verstaan wat ek gesê het nie”.

 

Hy het ook gesê:

 

“Ek het gereageer op sy (pres. Trump) twiet waarin hy gesê het wit boere en wit mense word vermoor. Ek het gesê nee... dis nie waar nie.

 

“Wit boere word vermoor, insluitend swart mense op plase. Dit is die realiteit. Die moorde kwel my, en dit behoort ons almal te kwel. Ek sal dit nooit kategoriseer as net wit (moorde) nie.  Ek moet totaal nie-rassig wees as ek hieroor reageer.”

 

Pres. Ramaphosa het voortgegaan deur te sê hy het al ná plaasmoorde die families van slagoffers, wit en swart, gebel om te simpatiseer en dat hy as president moet optree as ʼn nasiebouer.

 

Dr. Groenewald sê daar is geen manier hoe die president nou sy kategoriese ontkenning dat wit boere vermoor word, ongedaan kan maak nie.

 

Voor Trump en die wêreld ontken hy dit. Hier erken hy dit deur te sê hy het selfs van die slagoffers se naasbestaandes gebel. Hierdie optrede van die president is teleurstellend en is allermins bevorderlik vir nasiebou soos hy wil voorgee.

 

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.