Die Voorblad

A+ A A-

Raak betrokke in jou gemeenskap. Moet nie ophou boer nie.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus leier, het Saterdag boere aan die Wes-Rand aangemoedig om voort te gaan met hul boerdery aktiwiteite en terselfdertyd betrokke te raak in hul gemeenskap. Hy het boere en sakemanne van die Hekpoort-omgewing toegespreek oor grondonteiening en die omstrede vuurwapenwet. 

 

“Daar is geen beter tyd om nou betrokke te raak nie. Baie mense sê hulle is klaar met die politiek, maar die politiek is nooit nie klaar met jou nie. Grond-kwessies is van die belangrikste aspekte in enige samelewing. Baie oorloë is al hieroor gevoer.

 

 

“Dit is ook waar dat die regering van die dag grond as ʼn propaganda-masjien vir die volgende verkiesing gebruik – juis daarom  openbare verhore rondom die verandering van Artikel 25 van die Grondwet om so grondonteiening sonder vergoeding wettig te probeer maak.”


Dr. Groenewald het reeds in 2013  die voormalige staatspresident, Jacob Zuma, by die Gelykheidshof gaan verkla omdat hy in ʼn parlementêre debat oor grondhervorming gesê het blankes het die grond (land) gesteel. “Ek is uitgejaag toe ek hulle daarop wys grond is by die Khoi ’s gesteel.


“Die tyd het aangebreek om met waardigheid te sê dat blankes slegs die land wou opbou – in 1994 is ʼn ryk erfporsie agtergelaat, maar is gou geplunder.”


Dr. Groenewald het dit onomwonde gestel die party verwerp die beginsel van onteiening sonder vergoeding – “elkeen het die reg tot eiendom en daarom ondersteun ons die beginsel van vrywillige verkoper, vrywillige koper. Daar is baie grond te koop.”


Die party gaan ook grondonteiening  sonder vergoeding aan die internasionale wêreld bekendstel en dit breedvoerig verduidelik. Hy het ook oor die vuurwapenwet gepraat en Dinsdag in ʼn verklaring die minister van polisie, Bheki Cele, se besluit om ʼn amnestieperiode van ses maande aan te vra, geprys. Onwettige vuurwapens kan dan by polisiestasies ingehandig word.


Die amnestieperiode dien ook as geleentheid aan vuurwapeneienaars, wat nie betyds aansoek gedoen het vir ʼn wapenlisensie nie, om ʼn aansoek in te dien. Die periode sal, wanneer dit goedgekeur word, vanaf 1 September tot einde Februarie 2019 geld.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.