Die Voorblad

A+ A A-

Gauteng-gesondheid gaan moontlik sit met ‘n tekort van R2 miljard weens siviele eise

Gauteng se departement van gesondheid sal in die 2018/19-finansiële jaar waarskynlik meer as die helfte van sy begroting moet bestee aan siviele eise van R22 miljard voortspruitend uit mediese behandeling indien die eise sou slaag.

 

 

Die departement moet ook ‘n bedrag van R161 miljoen betaal aan die families van die Life Esidimeni-tragedie.

 

Indien die meeste van die eise suksesvol is, gaan die departement ‘n karige R24 miljard oorhou van sy totale toegekende begroting van R46 miljard, wat die grootste toekenning van die provinsiale begroting is. Dit gaan onvoldoende wees om dienste in hospitale en klinieke in Gauteng te lewer.

 

Hierdie bedrag is baie min as in ag geneem word dat veral instandhoudingswerk aan toerusting in hospitale, soos die herstel van apparaat vir kankerbehandeling, baie duur is. Kontrakte vir die verwydering van mediese afval moet hernu word en salarisse moet betaal word.

 

Dié departement se salarisrekening beloop R26 miljard vir die huidige finansiële jaar. Indien die eise slaag, sal die departement dus R2 miljard kort net om salarisse te betaal. Die aankoop van medisyne vir die verskillende hospitale en klinieke kan ook in die slag bly.

 

Dit is duidelik dat die Gautengse departement van gesondheid nie meer gered kan word nie en die huidige pogings van die provinsiale regering om te help, is te laat. Die VF Plus is van mening dat die departement se dae reeds getel is en dat gesondheidsdienste in die provinsie nie meer gered kan word nie.

 

Die moontlike tekort van R2 miljard vir salarisse kan ‘n negatiewe uitwerking op ander departemente se begrotings hê indien die LUR vir Finansies, Barbara Creecy, besluit om hierdie tekort aan te vul vanuit die departemente van vervoer, plaaslike regering en behuising, onderwys, maatskaplike ontwikkeling, infrastruktuur, gemeenskapsveiligheid, landbou en landelike ontwikkeling en sport, kuns en kultuur.

 

Die VF Plus is bekommerd dat, indien die begroting vanuit ander departemente aangevul gaan word, verskeie belangrike projekte soos die bou van paaie en brûe asook skole en huise aan armes in die slag kan bly. Laasgenoemde is noodsaaklikhede wat dringend aandag in Gauteng moet geniet.

 

 

 

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.