Die Voorblad

A+ A A-

Kantoor van Waardeerder-Generaal (WG) laat grondhervorming verder sloer

Die ANC-regering probeer die indruk skep dat onwillige verkopers die enkele groot rede is waarom die grondhervormingsproses misluk en dat onteiening sonder vergoeding daarom onvermydelik is. Die realiteit is egter dat onder meer die onbevoegdheid van amptenare ʼn groot remskoen in die proses is.

 

 

 

Oud-president Kgalema Motlanthe sê ook in sy verslag oor grondhervorming dat gebreke in beleid, swak toepassing van bestaande wette en korrupsie onder amptenare van die vernaamste redes is waarom grondhervorming nie vorder nie.

 

Die totale proses is nou verder gekniehalter met die instelling van die Kantoor van die Waardeerder-Generaal (WG) wat sedert 2016 die finale sê het oor die waarde van grond in ʼn grondeis.

 

Uit antwoorde op geskrewe vrae van die VF Plus aan die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming (Maite Nkoana-Mashabane) oor die funksionaliteit van die WG se kantoor, blyk dit dat die kantoor bloot ʼn verdere bottelnek vorm wat groot vertragings veroorsaak. (Vrae en antwoorde hierby aangeheg).

 

Van die 827 waardasie-aansoeke wat die  WG in die eerste jaar na sy totstandkoming in 2016 (2016/17) ontvang het, is minder as die helfte (slegs 409) gefinaliseer.

 

In die 2017/18-boekjaar het die aansoeke skerp toegeneem tot 1 363 waarvan slegs 749 afgehandel is.  Dit beteken dat net 1 158 aansoeke afgehandel is van die 2 190 wat die kantoor sedert sy stigting in 2016 ontvang het.

 

Dit hou groot implikasies vir boere in wie se hande met ʼn eis gebind word om sinvol verder te boer of sy toekoms te beplan.

 

Die doel van die kantoor was volgens die regering om “billike en regverdige” vergoeding vir grond vas te stel deur sy eie waardasies. In die praktyk is daar egter groot ontevredenheid oor die WG se waardasies wat in sommige gevalle so laag as 45% van die departement se waardasie is.

 

Die rede hiervoor is dat die WG ʼn stel subjektiewe  kriteria het wat ʼn groot invloed het op sy waardasie-bepaling.  Luidens die geskrewe antwoorde van die minister is dit:

 

  • Die huidige gebruik van die eiendom.
  • Geskiedenis van die aankoop en gebruik van die eiendom.
  • Markwaarde.
  • Die omvang van direkte staatsinvestering en subsidie in die verkryging van die eiendom asook enige voordelige kapitaalbesteding vir die verbetering daarvan.
  • Die doel van die verkryging van die eiendom deur die eienaar.

 

Die WG se besluite en beslissings hieroor is eensydig en finaal en lei tot groot verwarring en ontevredenheid onder grondeienaars omdat daar in baie gevalle nie duidelikheid is waarom die waardasies so ver benede markwaarde is nie.

 

Die minister sê in haar geskrewe antwoord voorts dat die gemiddelde tydsverloop om ‘n waardasie te prosesseer sowat vyftig werkdae is, net langer as twee maande.

 

Uit korrespondensie met personeel van die grondeise-kommissaris in die VF Plus se besit, blyk dit egter dat daar groot frustrasie selfs in dié kantoor is oor die gesloerdery in die kantoor van die WG waar daar in sommige gevalle na agt maande nog geen uitslag is nie en dit duidelik ʼn gesukkel is om bloot te kommunikeer met personeel van dié kantoor.

 

Die regering moet ophou met sy aanhoudende verdagmaking van boere as narratief vir sy eie mislukking met die grondeise-program. Veral die kantoor van die WG het dringende aandag nodig en sy kapasiteit sal dringend en daadwerklik versterk moet word om die proses te versnel.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.