Die Voorblad

A+ A A-

Vet salarisse vir ANC amptenare

Mogale City se benarde finansiële status is terug na waar dit was. Die toestand is selfs erger met die besluit om alle ANC-politieke personeel permanent aan te stel in stede daarvan om die meer as honderd kritiese vakante poste te vul, sê rdl. Amanda de Lange van die Vryheidsfront Plus.

 

 

“‘n Groot deel van die personeelkorps ontvang buitensporige hoë salarisse wat glad nie markverwant is nie en van die personeel het min of geen kwalifikasies.”

 

Sy sê dit is belaglik dat die ANC hul politieke personeel op so ‘n agteraf wyse permanent aangestel het.  “Behalwe dat elke politieke party die grondwetlike reg het om sy eie politieke personeel aan te stel, is dit nie verpligtend of sinvol vir 'n opposisieparty om van die personeel gebruik te maak nie.  Dit is absurd en weer eens 'n bewys van die roekelose en nepotistiese wyse waarop die ANC hulle oor die jare skuldig gemaak het aan vermorsing van geld in die munisipaliteit tot hulle persoonlike finansiële voordeel. 

 

“Die VF Plus is geskok oor die groot hoeveelheid werkers in diens van die Speaker en burgemeester.   “Sowat 70  politieke personeellede wat vir die ANC Mogale City-raad voor die 2016-verkiesing gewerk het, is met verhogings in hul poste heraangestel.  Van hierdie aanstellings verdien 10 senior personeel bykans R1 miljoen per jaar.”

 

Hierdie kwessies was aangespreek deur die koalisie-regering, maar in die afgelope maand met die ANC weer aan die stuur, vier nepotisme weer hoogty. Intussen gaan Mogale City/Krugersdorp se kritiese dienste departemente gebuk onder onvoldoende en onopgeleide personeel, geen of min voertuie en sommige voertuie is nie eens padwaardig nie.  Die water- en elektriese departemente het nie genoegsame toerusting om dienste te verskaf nie en baie van die bestaande toerusting is oud, stukkend en onbruikbaar.

 

De Lange bevraagteken ook personeel wat spesifiek aangestel is om in wyke te werk. “Vir elke wyk is daar ‘n kommunikasiebeampte, ontwikkelingswerker, ‘n wyksraadslid asook ‘n proporsionele raadslid. Gedurende die koalisie is ook dié poste verminder en personeel is oorhoofs aangestel om na meer as een wyk om te sien, buiten wyksraadslede".

 

Die koalisie-regering moes fyn voetwerk doen om die begroting in te perk en steeds ‘n werkbare begroting saam te stel om te sorg dat Mogale City sy diensverskaffers kan betaal en bankrotskap vryspring. Waar die huidige regering die honderd miljoene kry om die begroting  te vergroot en rojaal te spandeer alvorens daar nog 'n sent  in die dorp terug  ingeploeg is, is ‘n ope vraag.

 

“As voorsitter van die munisipale openbare rekeningekomitee sal ek behoorlik ondersoek doen na die onverantwoordelike en onregmatige spandering van publieke fondse,” sê rdl. de Lange.  "Daar sal nie geskroom word om verantwoordelike ANC-amptenare en personeel tot verantwoording te roep nie. Dié dorp behoort aan die inwoners, nie aan die ANC nie.”

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.