Die Voorblad

A+ A A-

ANC stop alle betalings van Mogale City

Oproepe wat van benoud na woedend wissel stroom in nadat die munisipale bestuurder, sonder verduideliking, alle betalings van Mogale City/Krugersdorp gestop het, sê Raadslid Amanda De Lange van die Vryheidsfront Plus en Voorsitter van MORK (Munisipale Openbare Rekeningekomitee).

 

 

"Ek ontvang oproepe van amptenare, diensleweraars sowel as die publiek wat wil weet wat aangaan met die betalings" sê sy.  "Dit blyk dat Mnr Maanda Raedani, die munisipale bestuurder, per e-pos opdrag gegee het dat slegs betalings wat deur die LUR vir Plaaslike Regering, Mnr Paul Mashatile, goedgekeur is, uitbetaal mag word".  Mnr Raedani was ook nie beskikbaar vir die raadsvergadering Vrydag waartydens hulle die veranderde begroting wou goedkeur nie.  Dit is hoogs ongeruimd, sê De Lange.  Hy het blykbaar uit sy eie 'n plaasvervanger aangestel sonder die raad se goedkeuring en om kole op die vuur te hoop, was Mnr Dumisani, wat die onwettige burgemeestersverkiesing gefasiliteer het, aangewys om vir Raedani in te staan.

 

De Lange sê die opdrag om alle betalings te staak is lynreg teen die munisipale wette en daar heers groot kommer oor die arrogansie waarmee ANC senior amptenare steeds met raadsbesluite en die finansies van die stadsraad te werk gaan.  Daar is geen wetlike rede waarom betalings summier gestop moes word nie en die sinspeling skep die indruk by werknemers dat daar ook geen salarisse einde van Julie betaal gaan word nie.  Dit is uiters onverantwoordelik om werkers aan so moontlikheid bloot te stel en die optrede kan moontlike stakings tot gevolg hê onder die ANC se beheer.

 

Volgens haar het die nuwe burgemeester, Patrick Lepudi, en sy burgemeesterskomitee binne twee dae na sy verkiesing drastiese veranderinge aan die 2017/18 begroting asook die geïntegreerde ontwikkelingsplan wat nog goedgekeur moes word, aangebring.  Daar is meer as tweehonderd miljoen rand by die begroting gevoeg vir uitgawes wat nie haalbaar is nie. 

 

Die meer as tweehonderd miljoen rand lenings is bo-en-behalwe huidige lenings wat reeds 'n enorme probleem is om terugbetaal te word.  Tot dusver is Eskom ook nie betaal nie en daar is reeds sprake van aksie van hulle kant af.  Dit is onduidelik of Rand Water al betaal is.

 

Volgens De Lange is die ANC op alle vlakke besig om Suid-Afrika in finansiële krisisse te dompel met hulle waansinnige lenery om dienste aan die publiek op skuld te verskaf.  Ons gaan vir jare nie weer hieruit kom of enige kredietwaardigheid terugkry nie.  

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.