Die Voorblad

A+ A A-

Liggame hoop op in Staatslykshuis

Die VF Plus het skerp gereageer op die Gauteng se Departement van Gesondheid se jongste skandaal wat in die provinsie losgebars het. Ten spyte daarvan dat patoloë regdeur die langnaweek onverspoosd gewerk het, sonder enige bystand, is daar ‘n geweldige opeenhoping van liggame.  Dit het reeds opgehoop tot soveel as oor die twee honderd en die agterstand raak al hoe groter.

 

Volgens die woordvoerder van Hospersa, Fazeela Fayers, word daar deur die Departement van Gesondheid aan personeel, onder andere skoonmakers wat oor geen opleiding in hierdie veld beskik nie, opdragte gegee om liggame oop te sny en outopsies uit te voer wat glad nie toelaatbaar is nie.  Hulle weier ook nou om dit te doen aangesien hulle geen vergoeding daarvoor ontvang nie.  Verskeie families moes reeds die Hooggeregshof nader om die Departement te dwing om die outopsies af te handel sodat liggame aan families vrygestel kan word vir begrafnisse.

 

Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr Philip van Staden, het vandag bekend gemaak dat Gauteng verval het in 'n provinsie van skandes en skandale en dat die LUR van Gesondheid , Gwen Ramakgopa, nie deur homself telefonies opgespoor kan word om die jongste tragedie te bespreek nie. Nie een van die LUR se kantoornommers is tans in werking nie. Die kantoor van die speaker in die Gauteng Wetgewer probeer ook nou om Ramakgopa vir Van Staden in die hande te kry.

 

"As jy lewend is en jy gaan na 'n staatshospitaal in Gauteng kom jy dalk nie meer lewend daar uit nie. As jy tot sterwe kom in Gauteng, gaan jy vir weke bo-op of onder iemand anders lë en wag vir 'n outopsie terwyl families maar geduldig moet sit en wag totdat daar eendag mense is wat wél die werk kan verrig. Dit is 'n skreiende skande dat inwoners van hierdie provinsie so behandel moet word - lewend of dood. Die LUR het 'n enorme taak om 'n Departement reg te ruk wat totaal en al in duie gestort het, maar die VF Plus spreek die hoop uit dat hierdie saak die hoogste aandag sal geniet en uitgesorteer sal word sodat families nie weke hoef te wag om geliefdes te begrawe nie".

 

Intussen word daar voortgegaan om LUR Ramakgopa op te spoor.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.