Die Voorblad

A+ A A-

BEE al hoe groter hindernis vir beleggers

Dit blyk dat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) toenemend as ‘n hindernis vir oorsese beleggers in Suid-Afrika gesien word, sê adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter en parlementêre woordvoerder oor ekonomie. Adv. Alberts sê die gevolg hiervan is dat ekonomiese groei aan bande gelê word wat beteken dat SEB eerder tot nadeel strek van die gemiddelde swart persoon in Suid-Afrika. Tot dusver het SEB net ‘n klein groepie swart kaders bevoordeel.

 

 

Luidens ‘n onlangse berig in die Bussiness Day het die Europese Unie se Kamer van Koophandel en Nywerheid in Suid-Afrika gesê verskeie aspekte rondom SEB, soos die onrealistese vereistes wat dit stel, maak dit een van die ‘groot uitdagings’ vir Europese beleggers in Suid-Afrika.

 

Volgens die kamer se nasionale uitvoerende direkteur, Stefan Sakoschek, is een van die groot struikelblokke die vereiste van staatsbeheerde ondernemings dat tenders slegs oorweeg sal word aan maatskappye met 51%-swart eienaarskap. Hy sê dit maak dit vir baie beleggers moeilik om voort te gaan met sake in Suid-Afrika, of om hul bestaande belange uit te brei.

 

Volgens Sakoschek steun die kamer voortgesette ekonomiese transformasie in Suid-Afrika deur bemagtiging, maar hierdie proses moet afgeskaal word om die langtermyn-volhoubaarheid van beleggings te verseker. Die kamer het die regering gevra om ‘n ‘dringende gesprek’ oor die aangeleentheid te voer.

 

Adv. Alberts sê die kamer se siening onderstreep die VF Plus se jarelange standpunt dat SEB die teenooorgestelde uitwerking het as wat beoog is, naamlik dat dit die ekonomie skade aandoen en beleggers afskrik en wat werkloosheid en armoede tot gevolg het.

 

“Suid-Afrika kan sulke struikelblokke op pad na ekonomiese groei nie bekostig nie. Die regering moet sy stiksienigheid laat vaar oor beleid wat nie werk nie. Indien nie, sal hulle wel by die stembus gestraf word,” sê adv. Alberts.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.