Die Voorblad

A+ A A-

Makhura raak al hoe dieper in die moeilikheid

Die Gautengse Premier, mnr David Makhura, is besig om al hoe dieper in die moeilikheid te raak.  Met die stof wat nog nie eers gaan lê het rondom die Life Esidimeni-slagting nie, word hy boonop nou ook blameer vir die Charlotte Maxeke hospitaal-tragedie. In die jongste verwikkelinge rondom die Charlotte Maxeke-hospitaal het die Staatsdiensvakbond, PSA, nou na vore getree en vir Makhura en sy regering openlik geblameer vir die ineenstorting van die hospitaal se dak. 

 

Volgens PSA het hulle die afgelope vyf jaar herhaaldelik hul kommer teenoor die Premier se kantoor uitgespreek oor die swak toestand van staatsgeboue soos hospitale. Tydens hierdie vergaderings het die Premier se kantoor erken dat hulle die toestand van Gauteng se geboue nie as prioriteit beskou het nie.

 

Die VF Plus het sy kommer teenoor die Premier van Gauteng se houding uitgespreek en gesê dat die party nou reg bewys word deurdat die VF Plus vroeër aangedui het dat Makhura nie in staat is om die Provinsie te regeer nie en dat hy die inwoners van Gauteng in die steek gelaat het. Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr Philip van Staden, het oor die jongste voorval gesê dat Makhura al hoe dieper in die moeilikheid raak en dat hy nou gaan begin spartel vir oorlewing.

 

“Die Premier het eers hewig ontken dat hy ooit iets van die psigiatriese pasiënte se verskuiwing geweet het, daarna het hy ontken dat hy ooit ‘n skrywe van WITS mediese studente of die VF Plus ontvang het oor die sterftes en verskuiwing van pasiënte in hospitale en nou kom hierdie nuwe inligting na vore dat hy wel bewus was van die feit dat die hospitaal nie geskik is vir gebruik nie”.

 

Van Staden voer aan dat dit kommerwekkend is dat die Premier se taakspan wat hy in 2015 sou aanstel om die geskiktheid van staatsgeboue in Gauteng te ondersoek, nooit van die grond af gekom het nie en daardeur die publiek en werknemers van die Gauteng regering se lewens in gevaar gestel het deur toe te laat dat hul niksvermoedend elke dag hierdie geboue betree.

 

Die VF Plus het reeds die LUR van Infrastruktuur Ontwikkeling veertien dae gegee om verslag te lewer of die Charlotte Maxeke-hospitaal wel geskik is vir verdere gebruik of nie.  Ek wonder wat die Premier sou gedoen het indien hierdie jongste tragedie gelei het tot groot lewensverliese.  Die Premier se woordvoerder, Phumla Sekhonyane, het skielik gister gesê dat hulle die instandhouding van regeringsgeboue nou geprioritiseer het onder die Departement van Infrastruktuurontwikkeling. Dit is bietjie te laat vir sulke optrede maar tragedies moet eers plaasvind, honderde mense moet eers sterf en geboue moet eers inmekaar val, voordat die Premier wakker skrik.”

 

Die VF Plus sal verdere stappe aankondig teen 20 Maart 2017 oor die instandhouding van regeringsgeboue in Gauteng nadat hulle die verslag van die LUR se kantoor, al dan nie, ontvang het.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.