Die Voorblad

A+ A A-

Kol Piet Uys, soldaat en politieke strydros

Talle politici het hul loopbaan in die weermag begin ¬- party gedwonge, ander uit vrye keuse. Vir kol. Piet Uys, Hoofsekretaris van die VF Plus en raadslid in Pretoria se Tshwane-metroraad, was daar twee keuses – bosbou of die weermag.

 

Hy was gefassineerd met bome, maar hy het in ’n weermaghuis grootgeword. Trouens, sy pa was ook ’n soldaat. Na skool het hy sy loopbaan van 26 jaar in die Suid-Afrikaanse Weermag begin.

 

Vandag, na al die jare raak kol. Uys, soos hy deur almal aangespreek word, nog opgewonde oor sy dae in die weermag. “Dit word jou lewe. Dit los jou nooit nie.

 

Ons oudsoldate sal altyd ’n familie bly.” Hierdie entoesiasme word duidelik weerspiëel in die reünies van lede wat deelgeneem het aan Operasie Savanna asook artillerie-veterane wat een keer per jaar in Pretoria bymekaarkom en gesels oor hul dae in uniform.

 

Kol. Uys sluit in 1967 by die Staandemag aan en begin sy militêre loopbaan aan die Leërgimnasium in Voortrekkerhoogte. Hy studeer die daaropvolgende jaar aan die Militêre Akademie te Saldanha, waarna hy ‘n B Mil-graad ontvang, na drie jaar studie, en militêre kursusse.

 

Vandaar word hy in 1971 na 4 Veld Artillerie Regiment in Potchefstroom verplaas. Die daaropvolgende twaalf jaar spandeer hy vier jaar elk by 4 Veld Regiment, die Artillerieskool en 14 Veld Regiment. In hierdie tydperk gee hy opleiding aan Dienspligtiges en ook aan lede van die Burgermag.

 

Intussen begin die insurgensie vanuit Angola na die destydse Suidwes-Afrika. In 1975 kry hy bevel om aan ’n oorgrens-operasie in Angola deel te neem, en hy help vorm aan die geskiedenis met sy drie maande lange deelname aan Operasie Savanna.

 

In 1976 is hy na 14 Veldregiment verplaas,waar hy eers ‘n batterybevelvoerder was, en toe die Tweede-in-Bevel geword het; hy was ook daar die Waarnemende Bevelvoerder vir ses maande.

 

Operasie Savannah was nie sy laaste oorgrens-operasie nie. In latere operasies in 1978 en 1983 veg hy nie net teen die vyand nie, maar hy ontmoet ook vriende – soos die bekende voormalige leier van Unita, dr. Jonas Savimbi.

 

Hy slaag in 1979 die 43 weke lange Bevel- en Stafkursus van die SA Leër. Hierdie was die mees senior kursus wat die SA Lëer aangebied het.

 

Hierna is hy na die Artillererieskool verplaas, waar hy ook die Tweede- in-Bevel geword het , en ook die Waarnemende Bevelvoerder in 1983, vir 6 maande.

 

In Januarie 1984 rapporteer hy by die SA Lëerkollege, as Tweede -in -Bevel, en waar hy ook vir 6 maande Waarnemende Bevelvoerder was. In hierdie jaar was hy ook deel van die Gesamentlike Moniteringskommissie wat die vredespogings in Angola haarfyn moes dophou.

 

Hy was ook deel van die eerste ontmoetings tussen die Angolese en lede van die Suid-Afrikaanse regering, wat die eerste stappe was tot ‘n vredesskikking in Angola, en die onttrekking van Kubaanse soldate uit Angola.

 

In Januarie 1985 word hy tot die rang van kolonel bevorder en is hy aangestel as die bevelvoerder van die Personeeldiensskool in Voortrekkerhoogte. Die Skool lei al die personeeldiens- en finans-offisiere van die Leër op.

 

Maar toe, een somer-middag in Februarie (soos wat altyd sy gewoonte was) gaan hy saam met ’n predikantvriend perdry. Hulle is in ‘n ongeluk en kol. Uys spandeer die volgende 40 dae op krukke. Sy regterbeen is gebreek.

 

Hy herstel en begin weer hardloop, ten spyte van ‘n been wat nou 1.5 cm korter is as die ander been. Kort daarna word een van sy grootste drome waar; in 1987 ontstaan daar vakatures vir militêre attachés in die buiteland. Hy doen aansoek om as militêre attaché te dien. Hy en sy vrou verskyn voor ‘n keurraad en die pos in Paraguay word aan hom toegeken.

 

Na ‘n paar Spaanse lesse vertrek die Uys-gesin na Suid-Amerika in Desember 1988. “Dit was wonderlik. Die kinders was in Engels onderrig by die Asuncion Christian Academy.

 

Ek het elke Donderdag gaan perdry saam met offisiere van een van die Kavalerie-eenhede en het my plek as diplomaat volgestaan.” Na drie jaar was sy termyn om en hy is terug na Pretoria waar hy by die Kommandement Noord-Transvaal ontplooi is.

 

In Augustus 1992 doen hy die Gesamentlike Stafkursus by die Weermag Kollege; dit is die mees senior kursus wat die Weermag destyds aangebied het.

 

In November 1992 kry hy kennis dat hy die geleentheid gegun word om af te tree. Dit het toe duidelik geword dat die Suid-Afrikaanse Weermag besig was om vakatures te skep vir die Nuwe Suid-Afrika se offisiere. Die rede vir hierdie aanbod aan kol Uys was dat sy mediese klassifikasie, as gevolg van sy perde- ongeluk in 1986, van G1 na ‘n G4 afgeskaal is.

 

Na 26 jaar en 11 dae stap hy finaal deur SAW se deure – maar met die wete dat soveel van sy drome bewaarheid is. As gepensioneerde soldaat, moes hy natuurlik toe ‘n ander betrekking soek ; intussen, egter, het die Afrikaner Volksfront ontstaan, en het Piet Uys met hulle kontak gemaak. Genl Constand Viljoen het hom versoek om as sy assistent op te tree.

 

As Persoonlike Asisstent van Genl Viljoen het hy menige voorvalle en verrigtinge van die politiek oor die tydperk tussen Maart 1993 tot 27 April 1994 meegemaak . Hy was die Persoonlike Assistent van Genl Viljoen vir ‘n tydperk van 7 jaar.

 

In die tydperk kon hy, saam met Genl Viljoen, bekende persone ontmoet, soos byvoorbeeld Dr Jonas Savimbi, Pres Nelson Mandela, en ook Oud President PW Botha. In Februarie 1994 is die Vryheidsfront gestig, en het die Vryheidsfront toe ook aan die algemene verkiesing op 27 April 1994 deelgeneem.

 

“Na die verkiesing is ek gevra om as sekretaris van die party te dien ; eers as Adjunk Hoofsekretaris, en later as Hoofsekretaris; ‘n pos wat hy steeds vul. Vandag is Uys ook , vir ‘n tweede termyn, ‘n stadsraadslid van die Tshwane Metro Munisipaliteit.

 

Sy weermagjare het , benewens vir die karakterbou, sekere gewoontes by hom ingeburger. Gewoontes wat hy vandag nog onwillekeurig uitvoer – soos om elke aand voor slaaptyd sy klere vir die volgende dag self te stryk. Elke weekdag om tien voor tien raak hy ook kriewelrig. Dit was teetyd in die Weermag en dan drink hy ‘n koppie tee, sonder melk.

 

Na werk draf hy. In die weermag het die troepe en offisiere daardie tyd liggaamsoefeninge gedoen. En hy hardloop steeds. Sy mees onlangse wedloop oor tien kilometer het hy in ‘n tyd van 51 minute en 44 sekondes voltooi.

 

Hy volg ook ‘n roetine eetpatroon. “Ek eet elke dag feitlik dieselfde kos – niks uitspattig nie - en ek glo daarom is daar geen wisseling in my gewig nie.” Hy versamel ook perde-tydskrifte uit alle lande, of hy die taal kan verstaan of nie. Dan sweis hy en doen houtwerk. “Ek hou niks van verf nie. Ek klim nie op lere nie, maar is versot op bergklim en visse.

 

In elke huis waarin ek en my vrou al gewoon het, was daar ‘n visdam.” Sy vrou, Heleen, is sy steunpilaar en uit hul huwelik is drie kinders gebore - Lucy, wat met haar gesin in Botswana woon, Hermann, ‘n dokter in fisika, en Gerhard, ‘n vryskutjoernalis en fotograaf.

 

Kol. Uys het baie van sy drome uitgeleef en is tans besig om ‘n verskil te maak waar hy in raadsale besig is om vir die behoud van die Afrikaner te veg en te sorg dat daar vir hulle en hul nageslag ‘n toekoms is in hul geboorteland; ‘n toekoms vol verwagtinge.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.