Die Voorblad

A+ A A-

Baksteen kry Caden nie onder nie

Alhoewel klein Caden Slabbert  (8) niks weet van politiek nie, was hy baie opgewonde toe drie VF Plus vroue by sy hospitaalbed met geskenke opdaag. Die vroue, Marga Alberts, media skakelbeampte van dr. Pieter Mulder en Chanelle Erasmus van die party se belsentrum in Pretoria was geraak deur dié moedige seun en sy ouers. Caden is op 30 April met ‘n baksteen teen die kop getref terwyl hy, sy sussie en pa Justin oppad was na ‘n vakansieoord waar hulle die langnaweek sou spandeer.

 

 

Hy het ‘n maand lank in die waakeenheid van die Clinton hospitaal om sy lewe geveg. Sy kopbesering was van so ‘n aard dat hy in ‘n geïnduseerde koma geplaas is nadat ‘n deel van sy skedel verwyder moes word om die drukking op sy brein te verlig. Sy spraak en motoriese bewegings was erg aangetas en hy is na ‘n maand  in die hospitaal na ‘n rehabilitasie hospitaal oorgeplaas. Chanelle vertel dat sy tydens ‘n ledewerwing aksie toevallig by Caden se stiefpa Gordon uitgekom het. “Caden was op daardie stadium nog in die ICU en Gordon het geduldig na my geluister en gesê hy is ‘n groot ondersteuner van die party. Hy het ook vertel wat met Caden gebeur het en ons het besluit wanneer hy beter is, sal ons gaan kuier.

 

Met die VF Plus se besoek was beide Caden se ouers Justin en Andriëtte daar. Pa Justin sê die gesin is baie dankbaar dat Caden so goed herstel het. Sy spraak is nog aangetas en nog operasies wag op hom. “Al raad wat ek aan ander ouers kan gee, is om nooit jou kind op die passasiersitplek te laat sit nie. Sorg dat hy agter die bestuurder sit, veilig agter ‘n veiligheidsgordel. Daar is soveel misdaad en mense wat onverantwoordelik optree – ons moet waaksaam wees.

 

Ma Andriëtte is ook duidelik trots op haar seun se vordering. “Ek dra geen wrok teen die persoon wat die baksteen gegooi het nie. Ons het so baie om voor dankbaar te wees, Caden vorder goed en die Here is saam met ons. Soveel mense bid vir ons, selfs tot in Afghanistan. Caden is ‘n leerder van Monument Primary in Krugersdorp en ‘n kranige rugbyspeler en Stormers ondersteuner. Kort voor sy ongeluk was hy gekies as kaptein van sy rugbyspan. 

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.