Die Voorblad

A+ A A-

Jaarlikse eerbetoon by Witkruismonument

Maandag 16 Junie 2014, op Verskroeide Aardedag, is die jaarlikse eerbetoon by die bekende Witkruismonument ter gedagtenis aan die slagoffers van plaasaanvalle, nogmaals gehou. Nieteenstaande die feit dat lede van Afriforum-jeug Vrydagmiddag en Saterdag besondere werk verrig het in die restourasie en skoonmaak van die Monument, was die opkoms vanjaar nie werklik na wense nie, maar die geleentheid is geensins deur swak bywoning benadeel nie.

 

 

Mnr. Werner Weber, oud L.V. en bekende boer vanuit Piet Retief-omgewing het die teenwoordiges met sy besonderse weldeurdagte gesprek geboei. Hy het gesê dat die stryd om die Afrikaner-kultuur uit te bou deur hom gevoer sal word, selfs tot drie dae na sy dood. Die stryd om daardie kultuurvlam brandend te hou, moet voortgaan.

 

Aangaande Plaasaanvalle het hy vermeld dat oorlewendes selde die letsels van verwoesting, vernedering en marteling kan verwerk en later wel sterf as gevolg van die aanval, nie noodwendig weens fisiese letsels nie, maar weens geestelike aftakeling. Nieteenstaande die wreedheid van meeste  plaasaanvalle word dit deur die SAPD, asook die Regering van die Dag, as gewone misdaad en diefstal beskryf. Dis ‘n totale miskenning van die geweldadigheid en doelgerite afskrikkings-element wat met so aanval gepaard gaan.

 

Weber het terug geval in die geskiedenis tot die tydperk van die Vryheidsoorloë toe Britanje, Suid-Afrika sonder sinvolle rede met wapengeweld aangeval het. Hierdie aksies was totaal onregverdigbaar, soos die plaasaanvalle van vandag.  Hierteenoor is die Afrikanervolk ‘n volk wat gekoppel is aan God-Drie-Enig deur twee duidelike Volksgeloftes. Die Van Riebeeck-gelofte van 6 April 1654 asook die sogenaamde Bloedrivier-Gelofte wat op 16 Desember jaarliks eerbiedig word. Om die aflegging van hierdie geloftes te verstaan, moet die wortels van die Afrikaner nagegaan word.  Sowat 32 % van hul voorsate is Nederlanders, ‘n Volk wat vir 80 jaar in gewapende konflik met die Katolieke Spanjaarde gekoppel was weens hul godsdiensoortuigings. 32 % kom vanuit Duitsland, ‘n volk wat skaars vier jaar voor die volksplanting, dus in 1648, ‘n 30-jarige gosdiens-stryd teen die katolieke beëindig het. 15 % van die stamouers kom uit Frankryk waar die Franse Hugenote deur die Katolieke gejag en in hul tienduisendtalle afgemaai is. Dus is die Protestantse geloofooruiging vir die Afrikaner deel van sy wese.

 

Gedurende die jare kort voor die Groot Trek was die vernietiging van plaaswonings en moorde op boere aan die orde, en word hierdie ontwrigting hedendaags nie vir die eerste keer deur die Afrikaner beleef nie. Die vraag ontstaan onwillekeurig: Wat nou? Jacob Zuma het direk verklaar dat die Land deur die Afrikaners gesteel is. Weber het uit die geskiedenis etlike voorbeelde aangehaal waar dele van die Republiek van Suid-Afrika deur traktate verkry is. Hy het die voorbeeld van die Republiek Lydenburg genoem waar grond vir 100 beeste gekoop is vir gebruik en bewoning deur die Hollands-Suid-Afrikaanse Nasie.  So is die Republiek van Utrecht vermeld, die Republiek Natalia, Stellaland, Goosen en andere. Ter gelegener tyd sal hierdie gebiede, veral grond wat aldaar deur Staatsfondse bekom is, deur nasate van die aanvanklike kopers en onderhandelaars terug geëis word. Hierdie aksies sal ook aan UNPO, die Europese Unie en ander internasionale forums bekend gemaak word.

 

Weereens het die vraag opgekom: “Wat Nou” en Weber se antwoord is duidelik. Keer terug na God. Die Bybel stel dit baie duidelik in Psalm 50, “Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste. Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.”

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.