Die Voorblad

A+ A A-

Eiendomsreg: Gebrekkige begrip kan Afrikaners alles kos

Vir Afrikaners is eiendomsreg iets onmiskenbaar; die grondslag van 'n geordende samelewing. NP-onderhandelaars was trots dat dit gehandhaaf kon word. Westerse beleggingsvertroue wissel saam met die ANC se verbintenis tot eiendomsreg.

 

 

Private grondbesit is deel van die Westerse kultuur; voor die Christelike era en soos gesien in die Bybel. Selfs 'n koning moes die grond wat hy sélf wou hê eerlik bekom, anders as koning Agab met Nabot se wingerd. Soms moes 'n boer in onveilige tye eiendomsreg aan 'n beskermende edelman oordra (die feodale stelsel).

 

Die grond het dan aan die “leenheer” behoort en die boer was die “pagter”. Niemand moes twyfel wie die eienaar was nie. Later is sentrale aktekantore daarvoor ingerig. As 'n ekonomiese en maatskaplike meganisme oor soveel eeue ontwikkel het, word dit vanselfsprekend; onmoontlik om te bevraagteken. Alternatiewe lyk irrasioneel en verwerplik. Só het 'n verowerende Europa eeue gelede gedink.

 

In Afrika is anders oor grond en eiendomsreg gedink. Die enkeling het nie grond besit nie, die stam het. Die stamhoof moes sorg dat elke gesin in die toekenning van bruikbare grond regverdig behandel word. Grond is nie permanent beset nie. Elke stam het wel op 'n gebied aanspraak gemaak, maar binne daardie gebied is rondgeskuif volgens die grond en veld se drakrag.

 

Die buitegrense was nie deeglik afgebaken nie en botsende aansprake het soms tot geweld gelei. Die Khoi en San se nomadiese ekonomie was 'n rasionele, patroonmatige verskuiwing, na gelang van plaaslike faktore. Vir Boer en Brit het dit na sinnelose swerftogte gelyk. Owerhede het nie gehuiwer om plase in dié dele aan koloniste toe te ken en te registreer nie.

 

Wanneer 'n Khoi- of San-stam na 'n bepaalde staanplek wou terugkeer, is hulle met 'n plaaswerf en boeregesin verras. Dié gesin het vir geen oomblik getwyfel oor hulle wettigheid nie, want hulle het die nodige dokumente gehad. Botsings, waarin elke party oortuig van sy eie reg was, het gevolg. Sonder uitsondering het die houers van dokumente uiteindelik die oorhand gekry.

 

Terwyl Boererepublieke swart stamhoofde sover moontlik in beheer van hulle gebiede en mense gelaat het, wou die Britte tradisionele gesag met Britse gesag vervang. Blanke boere is in stroke in swart gebiede gevestig. Engelse spekulante het grond van stamhoofde, vir wie die begrip van ewigdurende indiwiduele grondbesit vreemd was, gekoop.

 

Swart grondaansprake is telkens deur die dokumente en Westerse betekenis van grondbesit gefnuik. Hulle enigste vreedsame verweer was howe, wat natuurlik die gesag van dokumente gehandhaaf het. Gewelddadige optrede is deur blankes as ongemotiveerde “opstandigheid” beskou en onderdruk.

 

Om hierdie “onreg” reg te stel, was 'n deurlopende motief in die swart bevrydingstryd. Na bykans 20 jaar is Suid-Afrikaanse grond, die draer van ongelooflike simboliese waarde, nog nie na verwagting getransformeer nie. Gefnuik deur private eiendomsreg, en die ANC se belofte om dit te handhaaf!

 

As die regering besluit om eiendomsreg te minag, moet ons nie verbaas wees nie. Om dit as meganisme van onteiening, pleks van stabilisering te sien, is begryplik. Suid-Afrika beleef 'n onvoltooide magstryd, waarin eiendomsreg vir Afrikaners 'n wapen is. As ons dit egter onselektief aanwend, sal ons al ons grond, soos al ons politieke mag, verloor.

 

Daarom ywer die Vryheidsfront sedert sy stigting vir 'n vryheidsgebied; 'n gebied wat ons effektief moet beset. Eiendomsreg en ekonomiese belange in die res van Suid-Afrika is waardevol, want almal kan nie hervestig nie. Afrikaners se belange moet dus aktief beskerm word. Maar as langtermyn waarborg, geld net die vryheidsgebied.

 

Dit is die twee pilare waarop die Vryheidsfront Plus gebou is.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.