Die Voorblad

A+ A A-

GELOFTEFEES: Wat maak ons daarmee? (Deel 3)

Maritz se krygsvoorbereidings deur Andries Pretorius deurgevoer

 

Die enigste oorblywende leier, Maritz, het die uitdaging voor hom stelselmatig en doelgerig aangepak. Die Zulumag was ‘n dodelike vyand van buite, terwyl moedeloosheid, ledigheid en vreesagtige afwagting die Voortrekkers van binne kon vernietig. Die twee bedreigings sou hy met ‘n enkele strategie bestry.

 

 

‘n Kragmeting wat die grondtransaksie met Dingane kon bekragtig, was uit Voortrekkeroogpunt noodsaaklik. Maritz was oortuig dat die terrein goed geoefende voetsoldate bo perderuiters bevoordeel het. Daarteenoor sou verdediging in ‘n goed beskermde vesting die beste strategie wees, hoewel ook aanvallend opgetree moes word.

 

Maritz se oplossing was ‘n walaer, vergesel van perderuiters. Die berede mag moes die Zulus tot die aanval uitlok, maar vinnig binne ‘n beskermende laer skuiling vind. Vir dié doel is veghekke vervaardig wat die gaping tussen waens, as gevolg van die lang disselboom, kon versper. In geval van ‘n aanval moes die waens in die rondte getrek word, veghekke oombliklik aangebring word en trekvee moes binne die laer vasgekeer word om te keer dat die vyand dit wegvoer, soos in 1836 by Vegkop.

 

Maritz, die “fabrieksbestuurder”, het die hele laer betrek in die verkryging van kruit, vervaardiging van lopers (voorlaaierkoeëls), veghekke, voorrade en ander benodigdhede. En toe doen hy koors op en sterf. Net toe daar lig in die tonnel verskyn, word dit uitgedoof.

 

Andries Pretorius was reeds Natal toe onderweg om by die Trekkers aan te sluit. Hy was nog in die latere Vrystaat, toe die boodskap hom bereik dat hy dringend in die Natalse laer as kommandant benodig word. Met ‘n paar vertrouelinge het hy die laer bereik en Maritz se planne voortgesit. Die sogenaamde Strafkommando kon aan die einde van Desember vertrek.

 

Opweeg van die magte

 

Soms kyk mense terug en verklaar dat die Strafkommando ‘n eenvoudige onderneming was. Die Voortrekkers, met vuurwapens en selfs ‘n klein kanonnetjie, sou teen Zulus met spiese te staan kom. Dit is as’t ware die nuwe wêreld teen die oue. In beginsel is dit waar, maar kommandolede het dit heel anders gesien. Laat ons kyk hoekom:

 

Die oormag van die Zulus was geweldig. ‘n Staande weermag kon deur ‘n reserwemag tot bo 20 000 man uitgebrei word. Hulle was goed geoefen, fiks, gedissiplineerd en doodsveragtend. Hulle was uiters beweeglik en het die terrrein goed geken.

 

Daarteenoor was die Voortrekkers minder as 500 man, nie een lus om te sterf en sy familie wees te laat nie. Die voordeel van vuurwapens was glad nie so groot as wat mens mag dink nie. Om ‘n voorlaaier te laai het lank geneem. Die regte hoeveelheid kruit moes in ‘n pannetjie gegooi word om agter in die loop met ‘n laaistok vasgestamp te word. Dan moes die loper voor in die loop ingegooi word, waarna die skut moes mik en skiet.

 

Die gewere was onakkuraat, die oneweredige, tuisvervaardigde lopers se trajek was onvoorspelbaar en as die kruit klam was, of nie mooi vasgestamp was nie, kon dit weier om te ontbrand. Boonop moes die loop na ‘n paar skote gelaat word om af te koel. “Ou Grietjie” was ‘n klein skeepskanonnetjie en verbasend ondoelmatig onder die omstandighede.

 

Die militêre vermoë van die Zulus was 40 jaar later, teen 1879, ernstig verswak. Tog het hulle in daardie jaar ‘n goed toegeruste Britse mag met wapentuig wat sedert 1838  met rasse skrede verbeter het, by Isandlwana verslaan. Hulle eie wapentuig was steeds oorwegend die steekassegaai.

 

Gelofte en veldslag

 

Die Voortrekkers was self intens van die gevaar van hulle onderneming bewus. Niks fokus ‘n mens se aandag op jou Skepper soos die moontlikheid om Hom binnekort te ontmoet nie. Daarom is die gedagte van ‘n Gelofte so uiters begryplik. Vir ‘n volle week is die Gelofte soggens en saans herhaal, in ‘n gees van nederigheid, afhanklikheid en, mag mens maar sê, vrees.

 

Teen 15 Desember het die Voortrekkers van ‘n aankomende Zulu-mag bewus geword en ‘n verdedigbare laer moes gevorm word. ‘n Rivier en ‘n donga wat daarin uitgeloop het, het beskerming van drie kante gebied. Die waens is in ‘n laer getrek om beste gebruik van die terrein te maak en die veghekke is aangebring.

 

Saterdagnag 15 Desember was ‘n benoude tyd vir die Voortrekkers. Die mistigheid sou beslis voorkom dat hulle kruit ontbrand. ‘n Nagtelike aanval, soos vroeër in 1838 op geïsoleerde Voortrekkernedersettings, sou noodlottig wees. Volgens berigte is dit voorkom deur die lanterns bo-op lang sweepstokke rondom die laer, wat ‘n spookagtige ligkrans veroorsaak het.

 

Na ernstige oorweging het die Zulus besluit om hulle assegaaie nie te gooi nie, maar soos gewoonlik tot by hulle teikens te storm en dood te steek. Dit is moontlik dat ‘n omgekeerde besluit die teenoorgestelde gevolg kon gehad het. Trouens toe die Zulus na verskeie onsuksesvolle pogings besluit het om dié strategie te volg, het dit die Trekkers erg ontwrig.

 

Met die Zulu-mag uiteindelik op die vlug, het Pretorius die duur les van Italeni in die wind geslaan en hulle te perd agtervolg. Dit was byna ‘n rampspoedige fout en hyself is in die proses gewond. Terug by die laer was die dankbaarheid egter groot, want buiten die drie gewonde lede van die perdekommando, was die Voortrekkers sonder ongevalle.

 

Die teenstelling tussen wat Voortrekkers verwag het, en wat gebeur het, het hulle van gebedsverhoring oortuig.

 

Afloop en gevolgtrekkings

 

Die Zulumag het verslae na die hoofstat (Ungungundlovu) teruggekeer en Dingane se gesag is ernstig ondermyn. Hy moes later vlug en is in Swaziland vermoor. Sy opvolger was Mpande, nog ‘n halfbroer. (Die ander een was Shaka, sy voorganger). ‘n Goeie verhouding met Mpande was die grondslag waarop Pretorius sy verhouding met die Zulus gebou het.

 

In die volksmond word dikwels onthou dat Retief se vertroue in Dingane op ‘n ramp afgestuur het, maar minder dikwels dat Pretorius se vertroue in Mpande die grondslag vir ‘n lang, vrugbare verhouding was. Die verskillende verloop van sake gaan nie net oor die verskil tussen Dingane en Mpande nie, maar ook oor die verskil tussen Retief en Pretorius.

 

Soos aan die begin verduidelik, het die Gelofte en die Slag van Bloedrivier mettertyd ‘n sentrale plek in die Afrikanervolk se selfbegrip ingeneem. ‘n Mens kan verstaan dat die gees waarin dit herdenk is, nie-Afrikaners, en ook sommige Afrikaners, ernstig kon afsit.

 

Wat word eintlik met onderhouding van die Gelofte gesê? ‘n Waarskuwing aan toekomstige vyande? Een wat sê: “Jy kan teen ons veg as jy wil, maar onthou God is aan ons kant”? Omdat dit bietjie dik vir ‘n daalder is, het sommige al die boodskap probeer vergeestelik: “Dit gaan nie werklik oor die Voortrekkers en die Zulus nie, maar oor Lig en Duisternis.” So: Die Voortrekkers het God se Lig verteenwoordig en die Zulus die bose? Wat sou Prins Mangasotho Buthelezi, iemand wat deur baie Afrikaners gerespekteer word, daarvan sê?

 

Dalk moet ons na die gesindheid waarin die Gelofte afgelê is, kyk: Dit begin by mense wat as etniese groep byeen is. Hulle staar uitwissing in die oë en het alle moontlike voorbereidings getref. Tog lyk hulle saak verlore. In alle nederigheid wend hulle hulle tot God – sonder om strategiese beplanning en – oorwegings oorboord te gooi.

 

As die Afrikaner sy identiteit wil bewaar, is dit hierdie sin vir deeglike beplanning, maar afhanklike nederigheid, wat ons optrede moet kenmerk.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.