Die Voorblad

A+ A A-

GELOFTEFEES: Wat maak ons daarmee? (Deel 2)

Wie was die Voortrekkers?

 

Teen 1830 was die “Nederlandssprekende grensbewoners” van die Kaapse oosgrens van die mees afgeleë Westerse samelewings op aarde. ‘n Deel van hierdie samelewing het teen 1834 besluit dat die Britse regering aan die Kaap nie in hulle menings belangstel of in hulle belang regeer nie. Hoewel hulle onlosmaaklik aan die land verbonde was, was die staat vir hulle vreemd – selfs vyandig.

 

 

Wie in ‘n vreemde staat woon, moet óf daarby berus, óf ‘n alternatief vind. Die soeke na ‘n alternatief is die oorsprong van die Groot Trek. Pleks van ‘n spontane, geleidelike uitbreiding in wisselende mates van anargie, het ‘n beplande, gereguleerde uitbreiding gevolg. Eers is sogenaamde kommissietrekke uitgestuur; dit was verkenningstogte om moontlike bestemmings te besoek en aanbevelings te maak.

 

Daarna het familiegesentreerde trekgeselskappe ooreengekom om noord van die Oranjerivier, oos van die huidige Bloemfontein by Thaba’Nchu, byeen te kom en oor die toekoms van die Trek te besluit.[1]

 

Terwyl op die geselskappe van Piet Retief en ander gewag is, het Hendrik Potgieter se geselskap, en later ook dié van Gerrit Maritz, verkenningstogte tot diep in die Limpopo provinsie onderneem. Hulle het ‘n gebied aangetref wat grootliks deur die skrikbewind van die Matabeles onder Mzilikazi ontvolk is. Konflik tussen die Voortrekkers en die Mzilikazi het tot laasgenoemde se ontruiming van die gebied suid van die Limpoporivier gelei, wat die gebied vir voormalige swart bewoners, sowel as Voortrekkers beveilig het.

 

Terug by Thaba’Nchu het die mees onwaarskynlike kandidate vir ordelike regering denkbaar, byeengekom. Op enkele uitsonderings na, was hulle veeboere sonder formele skoolopvoeding en reeds vir geslagte van die hoofstroom van hulle eie beskawing afgesny. Selfs die buiteposte soos Kaapstad en Port Elizabeth is maar een maal in ‘n paar jaar besoek en ‘n gehuggie soos Grahamstad dalk een maal per jaar. Die belangrikste leiers was:

 

  • Piet Retief. Hy was ‘n kort, donker man, met ‘n magnetiese persoonlikheid. Ongelukkig het hy ook van die swakste kenmerke wat Afrikaners soms vertoon, verteenwoordig: Vol bravade en in sy sakebalange nie altyd betroubaar nie – om dit simpatiek te stel. Dié Bolander het aan die Oosgrens kom woon na ‘n paar mislukte besigheidsonernemings. In Grahamstad het hy tronkstraf uitgedien vir onbetaalde skuld en versuim om bouwerk waarvoor hy betaal is, te voltooi.
  • Hendrik Potgieter. Hy het ander trekke getoon waarvoor Afrikaners soms bekend is. Nie juis diplomaties nie en seker dat hy reg was; mense het hom eerder gerespekteer as om van hom te hou. Hy het wel oor militêre talent en politieke insig beskik.
  • Gerrit Maritz. Hy was die geleerde Trekleier, al het hy homself geleer. As wamaker was hy een van die min Voortrekkers wat nié geboer het nie en wat geldelik welvarend was. Sy kennis van die wet en teologie het dit moeilik gemaak om wol oor sy oë te trek. Hy was ook ‘n knap organiseerder.
  • Piet Uys was ‘n lang, blonde man. Van hom sou niemand kon sê dat hy onseker van homself was nie.

 

Die Groot Trek se ordening en bestemming

 

In 1837, by Thaba’Nchu, is ‘n demokratiese grondwet opgestel en ‘n regering verkies. Retief, met sy magnetiese persoonlikheid, is as “Goewerneur” én militêre aanvoerder verkies, met Maritz as “Vrederegter”. Potgieter kon vir geen amp genoeg stemme op hom verenig nie.

 

Met dié belangrike stap agter die rug, moes op ‘n trekbestemming besluit word. Potgieter het in die gebied anderkant die Vaalrivier geglo. Dit was noord van die Britse Ryk se verklaarde invloedsgebied en die afwesigheid van ‘n kuslyn was ‘n voordeel: Waar die see is, is die Engelse, was sy onwrikbare standpunt. Die ander leiers het Natal verkies. Die grond was vrugbaar, reën volop en Uys is tydens sy “komissietrek” deur die Zulu-koning, Dingane, beïndruk. Boonop was Port Natal (Durban) ‘n goeie hawe en drome van wêreldhandel was baie aantreklik.

 

Die uiteinde van die demokratiese proses was dat die hele Groot Trek met al sy informele leiers, maar onder aanvoering van Retief, teen die Drakensberge afgedaal het na die groen, groen land van Natal. En hier kan ons gerus die verhaal onderbreek vir ‘n stukkie kommentaar:

 

Die Groot Trek, en veral die geskille oor ‘n bestemming daarvoor, is in die volksverbeelding ‘n simbool van Afrikaners se hardkoppigheid en onvermoë om saam te werk. As ‘n mens kyk wie die Voortrekkers was, is die wonder nie dat hulle oor party goed verskil het nie, die wonder is dat hulle op enigiets kon ooreenkom. Nog ‘n groter wonder is dat leiers ordelik verkies kon word en dat verloorders hulle daarby berus het. ‘n Versameling mense van wie ‘n weersin aan regering verwag kon word, het vrywillig ‘n regering geskep en hulle daaraan onderwerp. Merkwaardig.

 

Die onderhandelings met koning Dingane van die Zulus

 

Teen die begin van 1838 was dinge vir die Trek-onderneming besonder rooskleurig. Hulle was eenstemmig, het al ‘n plek vir hulle nuwe hoofstad aangedui (die latere Pietermaritzburg) en onderhandelings met Dingane het gelyk of dit vlot. Retief moes nog net beeste gaan terugwen wat ‘n Suid-Sotho stamhoof, Sekonyela, van Dingaan gesteel het, dan kon ‘n grondtransaksie gefinaliseer word en die Trek tot ruste bring.

 

Maritz, Potgieter en Uys was almal skepties oor Retief se onderhandelings met Dingane, wat beteken het dat hy en sy geselskap in dié verband alleen opgetree het. Aan hulle geesdrif was daar egter geen einde nie en sommige het al die laer verlaat om op nuwe plase te vestig.

 

Dingane se verteenwoordigers op die ekspedisie na Sekonyela was bekommerd oor die gemak waarmee die Voortrekkers met Sekonyela afgereken het. Vir die Zulus was Sekonyela ‘n gedugte vyand, maar die Trekkers het hom maklik baasgeraak. Hulle het dié stamhoof hardhandig behandel en op navraag gesê ja, Dingane sal ook so behandel word as hy troueloos handel.

 

Vir Dingane het ‘n somber prentjie vorm aangeneem. Hyself was ‘n koning sonder simpatie met “weglopers” wat onder sy gesag probeer uitvlug. Retief het aangedui dat hulle wel ‘n koningin gehad het, maar juis besig was om onder haar gesag uit te kom. Hy het graag ‘n teatrale vertoning van perdegalop en voorlaaier-salvo’s rondom Dingane se stat gemaak en die toeskouers se verstomming geniet.

 

Laastens het Retief homself net as Piet voorgestel, aangesien Zulus nie in vanne belang gestel het nie. Onbewus dat Dingane vir Piet Uys in gedagte gehad het, het Retief verklaar dat hy die enigste leier is en dat sy naam werklik Piet is. Dingane se agterdog oor hierdie gedaanteverwisseling het moontlik die deurslag gegee. Die moord op Retief en sy manne, net na die ondertekening van die grondtransaksie en met hulle wapens buite bereik, is ‘n stukkie geskiedenis wat Afrikaners goed ken.

 

Oorlog tussen Voortrekkers en Zulus – Zulus wen met punte

 

Dingane het besluit om beslissend op te tree. Sy impi’s is uitgestuur om eers geïsoleerde Voortrekkervestigings uit te wis en dan hulle aandag aan die hooflaer te skenk. Die ander trekleiers se ergste vrees is bewaarheid toe oorlewendes van die ander aanvalle die hooflaer kort voor die aanstormende impi’s bereik het. Oorhaastige voorbereidings is getref, waarsonder die Groot Trek se geskiedenis net daar kon geëindig het. Verwoede aanvalle is afgeslaan en ‘n gespanne wapenstilstand het gevolg.

 

Die Voortrekkers het besluit dat die klaarblyklike moord op Retief nie ongestraf kon bly nie en dat die ooreenkoms met Dingaan geen veilige vestiging gewaarborg het nie. Die vraag was wie die “strafkommando” moes lei. Maritz het hom aan die wedloop onttrek, maar Uys en Potgieter, saam met hulle ondersteuners, het nie een kans gesien om hulle aan die ander te onderwerp nie.

 

‘n Militêre oordeelsfout het gevolg, met twee kommando’s wat gesamentlik, maar elk onder sy eie aanvoerder opgetrek het. Die “Vegkommando” was ‘n perdekommando (of twee) wat vinnig en deurslaggewend moes optree. Die eerste geleentheid het hom in heuwelagtige terrein voorgedoen, toe ‘n klein patrollie Zulu-impi’s amper gevang is, maar toe in ‘n beboste kloof ontvlug het.

 

Uys en sy manne het dit as ‘n gulde geleentheid gesien om die veldtog op ‘n hoogtepunt af te skop. Potgieter se manne was bang vir ‘n lokval en hy het aanbeveel dat hulle onverstoord na hulle bestemming optrek. Uiteindelik het Uys se manne ‘n aanval op hulle eie geloods.

 

Dit was ‘n lokval en die Slag van Italeni het gevolg. Na die perderuiters die kloof binnegegaan het, is hulle ontsnaproete afgesluit. In die bebosde terrein was hulle te perd nie juis meer beweeglik as die Zulu-voetsoldate nie. Die Voortrekkermag was te klein om mee te ding en vlug was die enigste opsie. In die proses het Piet Uys gesneuwel, saam met sy jong seun Dirkie wat geweier het om sy pa agter te laat.

 

Heftige meningsverskil het gevolg. Was die ramp daaraan toe te skryf dat die Potgieter-kommando te bang was om deel te neem? Het die onverantwoordelike Uys-kommando slegs oorleef omdat die Potgieter-kommando hulle ontsnaproete van buite kon oopskiet? Die “Vegkommando” het druipstert as die “Vlugkommando” na die laer teruggekeer.

 

In ons tyd word Blou Bul-ondersteuners beskuldig dat die slegste in hulle na vore kom as hulle verloor. Met die Voortrekkers was dit ook so. Sommige Uys-manne het aangedring dat Potgieter weens verraad voor ‘n krygsraad verhoor word. Vir Potgieter was dit die laaste strooi. Hy het nooit aan Natal as trekbestemming geglo nie en het dit met ‘n bitter smaak in sy mond verlaat.

 



 

[1] . Die geselskappe van Van Rensburg en Trichardt kan buite rekening gelaat word, omdat hulle vroeg reeds in die Limpopo-omgewing onderskeidelik deur uitmoring en malaria beëindig is.

 

(Hierdie rubriek word in drie dele uitgegee - vervolg Deel 3: Maritz se krygsvoorbereidings deur Andries Pretorius deurgevoer)

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.