Die Voorblad

A+ A A-

GELOFTEFEES: Wat maak ons daarmee? (Deel 1)

Inleiding

 

Geloftefees is 'n geleentheid om na die verlede te kyk. Nie omdat mens aan die verlede vasklou of in die verlede leef nie, maar omdat min dinge soveel help om vir die toekoms voor te berei, as om oor die verlede te dink. Nou moet ons ook nie eenvoudige lessies soek nie. Die menslike leefwêreld is anders as die trollie wat altyd in SkeiNat-handboeke teen 'n helling afbeweeg; die feit dat dit laas so gewerk het, beteken nie dit gaan altyd so werk nie.

 

 

Om 'n les in die geskiedenis te soek, is meer soos om na 'n dowwe ster te kyk: jy sien dit net raak as jy half verby dit kyk. Sodra jy direk daarna kyk, verdwyn dit. Of soos iemand gesê het, die geskiedenis is 'n nuttelose wetenskap waarsonder jy nie kan klaarkom nie.

 

Geskiedenis – Iemand se storie

 

Die Duitse woord vir geskiedenis, Geschichte, beteken letterlik 'stories'. Dit help nogal om te besef dat die geskiedenis stories is, want 'n storie is altyd iemand s'n. Skrywers kan nie alle karakters volledig beskryf nie; daar is net enkele hoofkarakters. Van kennisse, bondgenote en vyande lees ons wat nodig is om die hoofkarakters te begryp. Daarom is 'n Suid-Afrikaanse geskiedenis 'n probleem. Wie se storie vertel jy? Vir die eerste skrywers was dit die Britse Ryk s’n. Boere, Zulu's, Xhosas, wie ook al, se stories is net vertel sover dit die Ryk geraak het.

 

Afrikaners was volgende. Vir ons was Suid-Afrika ons land, en die ander se stories was belangrik as dit ons beïnvloed of geraak het. En nou is dit Struggle-geskiedenis. Die storie van die ANC en sy pad na oorwinning, dit is die eintlike storie van Suid-Afrika. In daardie storie is Afrikaners die uitvaagsels, die ouens wat hartseer bring as hulle aankom en blydskap as hulle vertrek.

 

Terwyl mens die plig het om eerlik te wees en almal in jou storie billik te behandel, is dit heeltemal in die haak om soms te sê: “Nou vertel ek my storie. Ek verstaan jy sal dit anders vertel, maar dan is dit jou storie. Nou is dit my storie.” 

 

Dit is wat ons met Geloftedag doen. 

 

Die storie van die herdenking van die Gelofte

 

Die storie van Geloftedag is amper so interessant soos die storie van die Gelofte self. Diegene wat by Bloedrivier betrokke was, het die Gelofte nagekom deur die Geloftekerk in Pietermaritzburg te bou en jaarliks daar byeen te kom. Toe Natal ‘n Britse kolonie geword het, het hierdie mense oor die algemeen na verskillende dele van die latere Vrystaat en Transvaal vertrek. Die wat kon, het jaarliks byeengekom – dikwels op Sarel Cilliers se Oos-Vrystaatse plaas. Nie alle Afrikaners was betrokke nie; trouens, nie eers alle Voortrekkers nie.

 

Om en by veertig jaar na Bloedrivier is die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) in 1877 deur Brittanje geannekseer. Teen 1880 het Transvalers hulle weer vir hulle vryheid gemobiliseer en die herrinnering aan die 1838-Gelofte het nuwe en wyer betekenis gekry. Met ‘n klipstapeling by Paardekraal is dié Gelofte hernu, terwyl nog een afgelê is.

 

Verrassend genoeg (of dalk glad nie) het herdenking van die 1838-Gelofte na die herwinning van vryheid in 1881 weer afgeneem. Enkele groepies het steeds “Dingaansdag” gevier, maar dit was nie ‘n volkswye verskynsel nie.

 

Die Anglo-Boereoorlog sou die herdenking van die Gelofte die eerste maal wyd versprei. Burgers te velde was reeds in groepe byeen en het baie dinktyd gehad. “Dingaansdag” is in 1899, 1900 en 1901 in die veld, in konsentrasiekampe en in oorsese krygsgevangenekampe gevier. In 1902 kon ‘n verslane volk weer as gesinne en gemeenskappe die Gelofte saam herdenk – en ook inligting uitruil oor wie die lewe, wie dood is, wie nog in gevangeneskap verkeer en wie verraad gepleeg het. Verskeie Geloftefeeskomitees wat vandag nog bestaan, is in daardie jaar gestig.

 

Die ellende waaruit Afrikaners na 1902 moes opstaan is byna onvoorstelbaar. Vreemd genoeg is die Gelofte al minder herdenk. Miskien lê die antwoord in die waarneming dat ‘n geslag wat verslaan is, nie self kan oorwin nie.

 

Teen 1914 het Afrikaners hulle balans gedeeltelik herwin. ‘n Rebellie het uitgebreek toe sekere Afrikanerleiers die Eerste Wêreldoorlog as ‘n kans gesien het om ons vryheid te herwin. Die Rebellie het min deelname, maar geweldige simpatie onder Afrikaners uitgelok. Nog ‘n vlaag van Geloftefeeskomitees wat vandag nog bestaan, het in die volgende vyf jaar gevolg. Maar steeds het die Groot Trek en die Gelofte van 1838 net tot party Afrikaners gespreek.

 

Die Eeufeesjaar van 1938 het alles verander. ‘n Simboliese ossewatrek na Pretoria het Afrikaners oor die hele Suid-Afrika in ‘n samehorige eenheid saamgebind. Selfs die bittere verdeeldheid van die 1940’s kon nie die nuwe lotsverbondenheid verbreek nie. Vir die volgende vyftig jaar sou die Gelofte Afrikaners saambind en is dit reg oor die land gevier.

 

Vraagtekens is soms geopper. In 1979 is prof. Floors van Jaarsveld geteer-en-veer oor ‘n akademiese lesing waarin hy heersende sienings oor Bloedrivier en die Gelofte bevraagteken het. Hoewel hy openbaar verneder is, het ‘n groeiende deel van die Afrikanervolk sy vraagtekens gedeel. Mense wat op 16 Desember tuis gebly het, nie uit laksheid of onkunde nie, maar uit oortuiging, het al meer geword.

 

Met die roemlose oorgawe van Afrikanermag en –selfbeskikking in 1994, is wyd voorspel dat Geloftedag sou sneuwel. Dit is amptelik tot Versoeningsdag verklaar en moes sy Afrikanerkarakter verloor ten gunste van Suid-Afrikaanse nasiebou. Verrassend genoeg het dit nie gebeur nie. Hoewel talle Afrikaners die herdenking gewoonweg ignoreer, het ander hulle met hernude ywer daaraan toegewy. Feeskomitees is dikwels nie meer ‘n versameling “ou ooms” nie, maar jongmense wat sin moet maak uit die wêreld wat hulle erf.

 

Tot sover oor Geloftedag. Nou die Gelofte.

 

Spontane koloniale uitbreiding in SA en elders

 

Die Groot Trek, met Bloedrivier as “embleem”, is ‘n merkwaardige verskynsel, selfs in die wêreldgeskiedenis. Tot rofweg 1838 het blanke verspreiding in Suid-Afrika ongeveer op dieselfde patroon as in Amerika en Australië, sowat vyftig jaar later, verloop.

 

Ekonomiese geleenthede in die stedelike gebiede was beperk en sommige nedersetters het die binneland ingetrek. Daar het hulle nie veel van die regering verwag nie en was ook nie van plan om hulle veel daaraan te steur nie. Grondgebied is vinnig beset, want elke nuwe geslag het op nuwe plase gevestig. Die owerheid het probeer bybly met die vestiging van nuwe dorpe en proklamasie van nuwe distrikte, maar was altyd twee treë agter. In Australië en Noord-Amerika het dit met die fisiese uitwissing van inheemse mense gepaard gegaan – die omvattendste volksmoorde in die moderne geskiedenis.

 

Teen 1830 was die proses van koloniale uitbreiding aan die Kaap steeds aan die gang. Die latere Vrystaat en Transvaal is al deur die voorlopers soos jagters, handelaars en sendelinge verken. Sonder die Groot Trek sou die Britse vlag binne dekades oor die hele gebied gewapper het, soos die owerheid met spontane uitbreiding sou probeer byhou. Soos die geskiedenis elders ter wêreld geleer het, sou daardie grensbewoners byna enigiets doen om nie regeer te word nie. 

 

(Hierdie rubriek word in drie dele uitgegee - vervolg Deel 2: Wie was die Voortrekkers?)

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.