Die Voorblad

A+ A A-

Selfbeskikking: Wat is die belang van ‘n grondgebied?

Die gesprek oor Afrikanerselfbeskikking verloop dikwels baie glad, totdat iemand vra waar dit moet gebeur. Teenstanders van die ideaal het dit lank gelede reeds besef en ontspoor telkens die gesprek presies op daardie punt – hoekom moet hulle immers so ‘n versoek ernstig opneem as die voorstanders daarvan nie eers dié basiese vraag kan beantwoord nie.

 

 

Maar kom ons laat teenstanders eers buite rekening. Hoekom bemoeilik ligging die gesprek tussen voorstanders? ‘n Natuurlike impuls om selfbeskikking na te streef waar jy woon (iets wat ook tot die afbrek aan die tuislandbeleid gedoen het) bring drie standpunte na vore:

 

  • Geen spesifieke ligging: Afrikaners moet die reg hê om oor sake wat ons ten nouste raak te besluit waar ons ookal woon. Ons is burgers van Suid-Afrika, maar Suid-Afrika behoort sy kulturele verskeidenheid te erken, pleks van te onderdruk. Dan kan elkeen sy bydrae lewer, tot opbou van ons gemeenskaplike vaderland. Dit kan ek ondersteun, waar ek ookal woon.
  • Daar waar Afrikaners tans gekonsentreer is – hoofsaaklik die noordoostelike dele van Suid-Afrika. Rusland is waar die meeste Russe woon, Duitsland is waar die meeste Duitsers woon, hoekom sal ‘n Afrikanerland op enige ander plek wees as waar die meeste Afrikaners woon? Afrikaners woon veral in dele van Gauteng, Mpumalanga, Noordwes en die Vrystaat. Grens daardie gebiede af, en jy het die Afrikanerland. As ek dit ondersteun, woon ek tien teen een reeds in die gebied. Anders moet ek dalk effens versit (iets wat mense in elk geval van tyd tot tyd doen) sonder om my ekonomiese aktiwiteit te ontwrig.
  • ‘n Gebied (groter of kleiner) wat relatief laag ontwikkel is, en tog die nodige potensiaal inhou. Elders in Suid-Afrika is ekonomie en arbeid ineengestrengel, sodat dit onmoontlik is om politiek te ontstrengel. As ek dit ondersteun, moet ek die opoffering maak om soontoe te trek.

 

Ironies genoeg is voorstanders van al drie moontlikhede dikwels bereid om, sonder enige erkenning van kultuur of selfs eiendomsreg, in Brittanje, Kanada, Zambië of die Kongo te gaan woon. Daar aanvaar hulle vreemdelingskap en pas in by die reëls wat reeds geld.

 

As ons ophou om selfbeskikking te sien as die keuse tussen ‘n aantal opsies, maar as ‘n spektrum waarop mens na gelang van omstandighede kan vorder, skakel dit heelwat konflik uit. Dit is inderdaad so dat Suid-Afrika by lande soos Etiopië en Kenia kan leer hoe erkenning van kulturele verskeidenheid stabiliteit binne die staat kan verhoog.

 

Terwyl voorwaardes vir praktiese uitvoerbaarheid billik is, behoort Afrikaners regoor die land die reg te hê om ons kultuureie met staatsteun uit te bou. Die staat het internasionale verdrae onderteken wat dit bevestig. Om egter te verwag dat dié selfbeskikking in byvoorbeeld die steenkoolvelde van Mpumalanga tot owerheidsvlak kan vorder, is om van die werklikheid te veel te vra – al is daar tienduisende Afrikaners.

 

In die ylbevolkte Noord-Kaap, daarenteen, het minder as ‘n duisend Afrikaners (dit is nou al meer) in Orania geslaag om selfbeskikking op munisipale vlak te verwerf. Dis nog ver van soewereine onafhanklikheid, maar dit is vordering.

 

‘n Suid-Afrika wat kulturele verskeidenheid erken, kan Afrikaners in staat stel om, terwyl hulle sekere regte in Gauteng uitoefen, tot vordering op die spektrum van selfbeskikking in die Noord-Kaap by te dra. Die impak as tien persent van ‘n persoon se ekonomiese belang na die gebied skuif, is veel groter waar dit tuiskom as waar dit vandaan kom.

 

Implementering van hierdie gedagte sal nie net vordering op die selfbeskikkingspektrum versnel nie, dit kan ook energie vrystel as mense wat dink dat hulle van mekaar verskil, tot een doel saamwerk.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.