Die Voorblad

A+ A A-

Selfbeskikking: ‘n Spektrum van betekenisse

Die Vryheidsfront Plus beywer hom selfbeskikking vir Afrikaners en ander kultuurgroepe te verwerf. Die sleutelwoorde is: “selfbeskikking” en “verwerf”. Kom ons begin by “verwerf”:  Selfbeskikking word nie gevra, opgeëis, of toegeken nie. Dit word verwerf. En as dit verwerf is, kan erkenning daarvoor gevra of opgeëis en dan toegeken word. Maar wat is “selfbeskikking”?

 

 

Die woord beskryf sedert 1919, met die einde van die Eerste Wêreldoorlog, kultuurgroepe se reg om oor hulle eie sake te besluit. President Woodrow Wilson van die VSA was oortuig dat dié verskriklike oorlog die gevolg was van volke wat gedwing is om onderhorig aan groot, multi-kulturele ryke te wees. Hierdie ryke het kulturele verskeidenheid probeer ignoreer en selfs onderdruk.

 

Terwyl selfbeskikking volle onafhanklikheid in ‘n eie staat kan beteken, is dit nie die enigste betekenis nie. Dit begin by plaaslike voorbeelde van selfstandigheid. Is daar woonbuurte (ghettos, byvoorbeeld) waar ‘n bepaalde groep oorheers? Dit skep al die ruimte vir selfbeskikking. Het die groep byvoorbeeld eie skole, dalk ‘n kinderhuis, versorgingsoord vir bejaardes, of selfs ‘n vorm van plaaslike bestuur? Dan is ‘n mate van selfbeskikking reeds verwerf.

 

Kan ‘n kultuurgroep selfbeskikking uitoefen waar dit ‘n minderheid is? Ja, juis deur skole en ander gemeenskapstrukture te vestig. Maar kan dit so ‘n gebied regeer? Net vir ‘n rukkie en die einde sal altyd in sig wees.

 

Die regte reaksie is om te dink watter mate van selfbeskikking ‘n bepaalde kultuurgroep wil nastreef. Dan moet aan die gevolglike voorwaardes voldoen word. Daardie voorwaardes is egter nie êrens op ‘n vorm wat jy kan indien as daar genoeg regmerkies is nie. Dit is ‘n reg wat altyd deur subtiele (of minder subtiele) magsuitoefening opgeëis en dikwels teengestaan word.

 

In ons tydsgewrig help dit daar internasionale verbonde oor selfbeskikking is. Suid-Afrika is byvoorbeeld ‘n ondertekenaar van die Internasionale Verbond oor Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte van die Verenigde Nasies (1976) en die VN se Deklarasie oor die Regte van Persone wat aan Nasionale of Etniese, Godsdienstige en Taalminderhede behoort (1992). Volgens albei hierdie verklarings kan Afrikaners op eie skole en selfs eie regering aandrin –  en die staat is verplig (as hulle die verklarings ernstig opneem) om ons daarin te steun.

 

‘n Ander voorwaarde vir selfbeskikking is dat die groep namens wie dit nagestreef word, dit moet steun. Ongelukkig kies die meeste Afrikaners slegs vir individuele regte. Daar word nie op ‘n Afrikanerskool aangedring nie, maar op die persoonlike reg om my kind na ‘n skool met Afrikaans as voertaal en ‘n Christelike etos te stuur, met bepaalde skoolgeldvoorwaardes waaraan ek bereid is om te voldoen.

 

Dit is vernuftig, want dit benut die menseregte-logika om iets te kry wat ons wil hê, maar in die proses doen ons afstand van ons reg op selfbeskikking. Die owerheid reageer deur ons persoonlike regte met ander individue se persoonlike regte balanseer – en sodoende Afrikaanse skole een vir een te laat sneuwel. En nooit hoef die owerheid te antwoord hoekom selfbeskikking geïgnoreer word nie – die meerderheid Afrikaners begeer dit dan nie!

 

Afrikaners wat saam met die VF Plus vir selfbeskikking ywer, herbou die reg om op internasionaal erkende regte aan te dring – en dit is veel wyer as net onderwys toepaslik!

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.