Die Voorblad

A+ A A-

Land en staat – noodsaaklike onderskeid

Suid-Afrika is ons land, maar dis ‘n vreemde staat. Die land het bakens soos berge, riviere, vlaktes, plaaswerwe, geboue, dorpe, stede, alles wat mens tuis laat voel. Die staat is politieke skeppings soos die grondwet, munisipaliteite, provinsies, staatsdepartement en die presidensie. Afrikaners is oor die algemeen hartstogtelik lief vir die land. Met die staat is dit ingewikkeld.


As die land die bodem is waaruit lewe spruit, is die staat ‘n groot en invloedryke lewensvorm – soos ‘n groot boom wat ‘n hele ekologie huisves. Maar soos elke tuinier weet: nie alles groei onder elke boom nie. Kom ons noem ‘n eenheidstaat ‘n denneboom. Dit is groot en indrukwekkend, maar huisves ‘n klein verskeidenheid lewensvorme. ‘n Plurale staat (federaal, konfederaal of selfs ‘n gemenebes van state) is soos bome wat tussen mekaar deurgroei. Die seisoen (byvoorbeeld) bepaal watter een die sterkste groei. ‘n Wye verskeidenheid kleiner plante, voëls, diertjies en goggatjies floreer in dié ruimte.


Die beeld se toepaslikheid eindig wanneer die mens (individueel en in kultuurverband) se denkende en skeppende krag oorweeg word. Noodsaak tot aktiewe aanpassing van die eie aard en omgewing kan vooruitgesien en deurgevoer word. Afrikaners staan tans voor daardie noodsaak. Kultuur kan beskryf word as die antwoorde waaroor mens nie eers hoef te dink nie; waar hulle nie eens vrae herken het nie; die vrug van eeue en geslagte se dinkwerk en ervaring. Vergelyk die gefrustreerde ongeloof oor onwilligheid met transformasieteikens en –kwotas in sekere kringe, met die ongeloof oor aandrang daarop in ander kringe, vir ‘n praktiese voorbeeld.


Die Afrikaner-as-kultuurgroep se plek in Suid-Afrika word treffend deur die plek van Die Stem van Suid-Afrika in Suid-Afrika se nasionale lied gesimboliseer. Met die skikking van 1994 is Afrikaners se deelname erken en Die Stem het ‘n opvallende in die nasionale lied gekry. Eers word die land en staat deur die struggle-lied Nkosi sikelele i Afrika besing, dan volg die land deur vier reëls uit Die Stem en uiteindelik die staat deur vier Engelse reëls op Die Stem se wysie.

 

Sedert 1994 is Afrikaners se gesamentlike belange voltyds op die agtervoet. Al is hofsake oor plekname of rasgedrewe aanstellings soms gewen, is Afrikaans geleidelik uit die openbare ruimte gedruk. Instellings en aktiwiteite wat deur Afrikaners totstandgebring is en ondersteun word, kan nie net “oop” wees nie, dit moet bewys hoe ander mense aktief ingetrek word. Ons mag nie self ons helde uitsoek nie, hulle word vir ons aangedui: Bram Fischer en Beyers Naudé red ons selfbeeld in ander se oë. 

 

Afrikaners moet leer om tussen land en staat te onderskei. Dislojaliteit aan die land versprei ons oor die wêreld. Lojaliteit aan die staat maak van ons hensoppers wat altyd vra wat ons nog kan prysgee vir die voorreg om hier te wees. As kultuurgroep sal ons nie een van die twee oorleef nie.

 

Laat ons dus ons eie boompie troetel; niemand anders gaan nie.

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.