Die Voorblad

A+ A A-

Wie is die Hartlandstigting?

Nog ‘n pyl is in die koker van vryheid gevoeg toe die Hartland Stigting in 2014 opgerig is. Nou sou ‘n mens kon vra: Wie of wat is die Hartland Stigting en is daar behoefte aan so ‘n instelling? Die oprigters van die Hartland Stigting is volkstaters uit die tradisie van die Afrikaner Vryheidstigting (AVSTIG). Die meeste van hulle is lede van dié instelling, wat sedert 2000 optree as die Orania Beweging.

 

Kenmerkend van hierdie tradisie is die vreeslose strewe om vir die Afrikanervolk staatkundige vryheid te herskep; maar om ook telkens stil te staan en bloedend eerlik selfondersoek te doen:

 

-  Hoe ver is op die pad na vryheid gevorder?
-  Het omstandighede so verander dat die roete herbeplan moet word?
-  Is die middel dalk tot doel verhef?
-  Lyk die doel nog soos aan die begin?
-  Wanneer moet die volgende skof aangepak word, en hoe?

 

Sulke vrae het in 1987 tot die oprigting van die Afrikaner Vryheidstigting gelei. Vir talle was dit niks minder as laster nie, toe verklaar is dat afsonderlike ontwikkeling misluk het. Maar AVSTIG se antwoorde was genadeloos:

 

-  Daar is nie baie ver op die pad na vryheid gevorder nie – Afrikaners se land is oorweldigend deur ander bewoon.
-  Natuurlik moes die roete herbeplan word – die vorige een het doodgeloop.
-  Eie woongebiede en minderheidsregering was vir Afrikaners voldoende – die middel het doel geword.
-  Toenemend is erken dat die toekoms óf minder vryheid, óf minder geregtigheid sou behels; die doel het anders as aan die begin gelyk.
-  Die volgende skof moes dadelik aangepak word. Eers deur rofweg aan te dui in watter streek ‘n Afrikanerstaat lewensvatbaar sou wees, dan deur groeipunte te vestig en uiteindelik deur ‘n politieke skikking met die Republiek van Suid-Afrika te bereik.

 

In 1989 is die Oranjerivier en die Olifantsrivier as groeistreke aangedui, binne ‘n gebied wat rofweg die latere Noord-Kaapprovinsie beslaan. In 1991 is Orania as eerste groeipunt gevestig. Vir meer as 20 jaar sou Orania al die hulpbronne verg wat AVSTIG kon monster en is dié stigting tot Orania Beweging omvorm. Enigeen wat die prestasies van die Orania Beweging en Orania-as-gemeenskap laag skat, onderskat die eise wat gestel is.

 

Die Hartland Stigting salueer Orania.

 

Orania is ‘n belangrike mylpaal na vryheid en noop vryheidstryders om die roete verder te beplan. Orania is immers ‘n middel tot ‘n groter doel. Die doel bly vryheid en die Hartland Stigting wil een voertuig wees wat die volgende skof moontlik maak. Daarom is die Hartland Stigting aanvullend tot bestaande instellings.

 

Die Hartland Stigting fokus op die groter volkstaatgebied; die gebied tussen Orania en die Weskus. Dit word op verskeie maniere gedoen:

 

-  Alles begin by ‘n plan. Eers wanneer die groter gebied bespreek en beplan word, kan resultate verwag word.
-  Inlysting van grond: Afrikaners binne die gebied, wat deel van die toekomstige hartland wil wees, kan hulle grond by die Stigting inlys, sonder dat eiendomsreg beïnvloed word. Soos inlysting vorder, kry die Hartland gestalte.
-  Ko-ordinering van Afrikanervestiging binne die Hartland. Dit kan selfs die vestiging van verdere groeipunte insluit.

 

Die Hartland Stigting se vertrekpunt is nederige afhanklikheid van die Drie-enige God. Slegs as Hy steeds vir die Afrikanervolk ‘n doel het, het die volk ‘n toekoms. Diensbaarheid is die hoogste roeping, ook vir ‘n volk. Die Hartland Stigting besef die einddoel van vryheid sal ywer en opoffering verg. Vir die Hartland Stigting is ekonomiese welvaart nie ‘n doel op sigself nie, maar wel ‘n voorwaarde vir vryheid. Daarom is ondernemerskap sentraal in sy werksaamhede.

 

Dit is die kabbelende golfies wat die bruisende stroom voorafgaan. Wanneer beskeie aksies ‘n volksbeweging wakker maak, sal vryheid onkeerbaar wees. Dit is die Hartland Stigting se hoogste strewe!

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.