Die Voorblad

A+ A A-

Jozi@Work skep pandemonium in Johannesburgse raadsaal

‘n Raadsitting van die Stad van Johannesburg is gistermiddag ontwrig toe werkers van die Jozi@Work-program vensters op straatvlak van die burgersentrum uitgeslaan het om toegang tot die sittende raad te kry. Dit alles omdat die burgemeester, Herman Mashaba, geweier het om ‘n ANC-gemotiveerde griefskrif van die werkers te ontvang, sê Franco de Lange, VF Plus raadslid van Johannesburg metro, wat deel is van die koalisie-regering.

 

 

“Die burgemeester het vroeër vanjaar die Jozi@Work-werksprogram gekanselleer as gevolg van grootskaalse bedrog wat oopgevlek is. Die korporasies wat gevorm is onder die program is gevul met ANC-kaders en dit is hier waar die bedrog plaasgevind het. Burgemeester Mashaba het werkers uitgenooi om direk vir die stad te werk, maar geweier dat die koalisie-regering kaders verryk deur die program te ondersteun,” sê rdl. de Lange.

 

Hy het dit beklemtoon dat die VF Plus die kansellering van die Jozi@Work-program ondersteun. “Dit was nog altyd ‘n bekommernis omdat die grootste bedrog en korrupsie in Johannesburg deur soortgelyke programme plaasgevind het.

 

“Dit was ook ooglopend dat ANC-raadslede vooraf inligting ontvang het omdat hulle almal in geel geklee was gedurende die stormloop. Hulle was dus maklik uitkenbaar.”

 

Die VF Plus het die Jozi@Work-aksie skerp gekritiseer en gevra dat die stadsraad weer na sekuriteit-maatreëls moet kyk om te sorg dat soortgelyke aksies onmiddellik gestop word.

 

“Die soort van rampokkery is deeglik deur sekere politieke partye beplan om raadsittings te ontwrig en die koalisie so te destabiliseer. Die koalisie sal dit nie duld nie.”

Kontak Ons

  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
  • Die Voorblad - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Voorblad © Kopiereg 2011 - 2014 | Alle regte voorbehou.